By Hoërskool Linden is sport ‘n kern deel van ons holistiese opvoeding. Ons kan met trots sê dat die sport by ons skool vir elke belangstelling en talent voorsiening maak. Ons streef daarna om elke leerder se talent en potensiaal te ontwikkel.
Die verskeidenheid sportsoorte waaraan Lindeniete kan deelneem, is: atletiek, gholf, hokkie, krieket, landloop, netbal, rugby, skaak, skyfskiet, swem en tennis.
Hoërskool Linden gee ook aan verskeie buitesportsoorte erkenning. Die erkende buitesportsoorte is tans ruitersport, judo, gimnastiek, fietsry, avontuursport en gimnastiek.
Hoërskool Linden gebruik hul eie kundige onderwysers as afrigters, asook eksterne spesialiste by sommige sportsoorte en -spanne.
Die Linden Sportsentrum is ‘n “eenstop”-fasiliteit op die gronde van Hoërskool Linden waar ons die geleentheid bied vir individue en spanne in alle sportsoorte om hul talente te ontwikkel tot ‘n optimale volhoubare vlak. Die Linden Sportsentrum, met behulp van ‘n sportwetenskaplike en ‘n mediese span, fokus op die optimale volhoubare prestasie en beseringvrye deelname van al ons sportmanne en -vroue.
By Hoëskool Linden neem jy deel, word jy deel en bly jy vir altyd deel van ons sportkultuur wat berus op respek, uitnemendheid, integriteit en lojaliteit.