Goethe-Institut
Hoërskool Linden is een van vier hoërskole in Suid-Afrika waar die vak Duits deur die Goethe-Institut befonds word. Duits as Tweede Addisionele Taal is ‘n IEB vak.
Die Goethe-Institut is Duitsland se kultuurinstituut. Daar is 159 institute in 98 lande wêreldwyd wat internasionale kulturele betrekkinge en die aanleer van die taal Duits bevorder. Sedert 1995 is daar ook ‘n Goethe-Institut in Johannesburg.
Hoërskool Linden staan ook bekend as ‘n Pasch-Schule. Die inisiatief Schulen: Partner der Zukunft (PASCH), of te wel, Skole: Vennote van die Toekoms, is in Februarie 2008 deur Duitsland se Departement van Buitelandse Sake geloods. Dié Departement koördineer die skoleprojek in samewerking met verskillende instansies, onder andere, die Goethe-Institut.
Die Goethe-Institut verskaf handboeke, luisterboeke en uitstekende tydskrifte vir die klas. In 2016 skenk hulle ‘n interaktiewe witbord met interaktiewe handboeke aan ons skool. Tydens ‘n les kan die leerders vinnig Duitsland toe reis via die internet vir ‘n interaktiewe leerervaring.
Ons leerders word ook jaarliks blootgestel aan uitstekende beurse, Duitse Olimpiades en uitruilskemas.
- Beurs van die PASCH / Goethe-Institut – Die twee beste Graad 11-leerders gaan jaarliks tydens die Julie skoolvakansie Duitsland toe vir ‘n taalkursus.
- Die Duitse Olimpiade word jaarliks landswyd in September/Oktober geskryf. Slegs die vyf beste Graad 10-leerders per skool mag aan die olimpiade deelneem.
- FSA Youth Exchange – Die Graad 10-leerders doen aansoek om vir vier weke of drie maande Duitsland toe te gaan om by ‘n Duitse gesin te bly en ook daar skool te gaan.
Deutsch macht Spaß!