akademie

ons toewyding aan jou toekoms

Ons handhaaf altyd uitnemende akademiese standaarde deur die toewyding van ons bekwame en kundige personeel. Afrikaanse moedertaalonderrig bly ons topprioriteit en kernfokus.

Ons gebruik alle beskikbare ondersteuning en hulpmiddels om leerders optimaal toe te rus vir hul akademiese reis.

Baie geluk aan elke matriek!

“Ons is ongelooflik trots op ons matriekgroep van 2025!

Met 355 onderskeidings en 94,83% wat kwalifiseer vir verdere studies, het julle gewys wat harde werk en toewyding kan bereik. Julle is ware ambassadeurs van Hoërskool Linden en bewys dat enige iets moontlik is as mens VOLHARD“

Henk Ferreira

Skoolhoof

GEBOU OP UITNEMENDHEID

Hoërskool Linden het oor die jare sy plek gevestig as een van die top akademiese skole, nie net provinsiaal nie, maar ook nasionaal. Met hoë akademiese standaarde as fondasie streef die skool elke jaar daarna om uitmuntende matriekuitslae te behaal.

Sedert 2016 is Hoërskool Linden trots daarop om ‘n Microsoft-vennootskapskool te wees, wat ons in staat stel om tred te hou met tegnologiese vooruitgang en leerders vir die toekoms toe te rus. Die skool bied ‘n verskeidenheid akademiese sentrums en ondersteuningsdienste om leerders optimaal te ondersteun in hul akademiese groei.

Benewens die kernkurrikulum, glo Hoërskool Linden ook aan akademiese verryking deur deelname aan Olimpiades en Expo’s. Innovasie en kreatiwiteit word verder aangemoedig deur unieke programme soos Geek-week, die Sake-week en Entrepreneursdag, wat leerders op ‘n praktiese en prettige manier met nuwe idees bekendstel.

Omdat alle matriekeksamens deur UMALUSI gesertifiseer word, ontvang leerders van beide privaat (IEB) en openbare skole dieselfde erkenning vir hul matriekkwalifikasies. By Hoërskool Linden lê ons ‘n sterk klem op akademiese uitnemendheid, veral in vakke soos Wiskunde en Wetenskap.

Hoërskool Linden bied AP Wiskunde en AP Duits aan. Hierdie leerders verwerf aan die einde van graad 12 ‘n IEB kwalifikasie in bepaalde vakke.

Akademiese prestasie by Linden hang saam met:

EKSAMENS

  • By Hoërskool Linden skryf ons in Junie en November eksamen.
  • Die graad 12’s skryf ook ‘n rekordeksamen wat in September plaasvind.
  • Die uitvoering van die eksamens is onderhewig aan streng voorskrifte van die Departement van Onderwys.
  • Eksamens is dus tye by die skool wat met erns en omslagtigheid bestuur word.

Siklustoetse

  • Siklustoetse vorm ‘n integrale deel van Hoërskool Linden se akademiese uitnemendheid en sukses.
  • Siklustoetse word op Dinsdae en Donderdae geskryf.

microsoft-vennootskapskool

Hoërskool Linden is reeds sedert 2016 deel van die digitale gemeenskap in onderwys.

Ons is een van die eerste openbare skool in Suid-Afrika wat ‘n Microsoft-Vennootskapskool geword het. Dit beteken dat die meeste aspekte van die skool gedigitaliseer word en opleiding in Inligtingstegnologie aan die onderwysers en leerders verskaf word. Tegnologie word gebruik om ‘n interaktiewe leerervaring in die klaskamers te skep. Hoërskool Linden is ook ten volle toegerus om afstandsonderrig deur middel van Microsoft Teams aan ons leerders te verskaf.

Graad 8 en 9 leerders ontvang volledige opleiding in Inligtingstegnologie. Vaardighede soos tik, die gebruik van Microsoft-sagteware, internetvaardighede en basiese programmering word aangeleer.

Die Microsoft 365-vennootskap bied die volgende voordele aan elke leerder in die skool: 

  • Leerders ontvang hul eie gebruikersnaam en wagwoord om toegang tot die skool se internet te kry.
  • Leerders ontvang elk 100 Meg gratis data per dag.
  • Leerders ontvang gratis opleiding in die gebruik van Microsoft Office 365.
  • Leerders kan die Microsoft-sagteware gratis op enige vyf persoonlike toestelle soos tablette, selfone, skootrekenaars en rekenaars by die huis aflaai.
  • Huiswerk is op OneDrive, ‘n aanlynstoorstelsel, beskikbaar.
  • Onderwysers gebruik aanlyntegnologie in die klaskamers.
  • Lesse en vergaderings kan enige tyd en plek plaasvind deur middel van Teams.

Olimpiades

By Hoërskool Linden fokus ons nie net op die oordrag van akademiese kennis nie. Dit is vir ons belangrik dat leerders deelneem aan olimpiades waar hulle vaardighede aanleer om probleme op te los.