Ons Skool

wie is ons

Uit die hoof se kantoor

Akademie is die hartklop van ons skool. Ons streef daarna om akademiese programme en geleenthede daar te stel wat jongmense sal bemagtig.

Akademiese prestasie hang nou saam met ervare, toegewyde ovoeders en die gebruik van die nuutste tegnologie.

Op sportgebied ding Hoërskool Linden mee met groot skole in ‘n verskeidenheid van ligas en kompetisies in alle sportsoorte.

Deur goeie sportmanskap te handhaaf, word ons leerders toegerus om hulle plek op enige sportveld vol te staan.

Hoërskool Linden het ‘n omvattende kultuurprogram waar leerders hulle ten volle kan uitleef. Die skool spog met verskeie nasionale toekennings op kultuurgebied en deelname aan kultuur is ‘n groot prioriteit.

Die sukses van die skool hang in in groot mate af van in betrokke en dinamiese ouergemeenskap. Ons bied verskeie sosiale funksies wat dit vir ouers/voogde moontlik maak om deel te neem aan die uitbou van die skool en die skep van geleenthede vir ons leerders.

Dit is egter die veelsydigheid en aanpasbaarheid van Hoërskool Linden wat dit ‘n besonderse plek maak. Ons slaag juis omdat ons mekaar se verskille erken, en waag om aan mekaar te skaaf om méér as net ‘n skool te wees.

Ons kan met trots sê dat Hoërskool Linden vandag tradisieryk sy plek volstaan; dat ons skool van krag tot krag groei; dat ons droom oor die toekoms; en steeds overpoos werk om ons nuwe drome te verwesenlik.

Ek verwelkom u by die hartklop van ons skool en hoop dat elke leerder en ouer die Lindengees en -trots eerstehands sal beleef.

Lindengroete

SKOOLWAPEN

Die wapen is deur die destydse kunsonderwyser, mnr. Pappa Douwes ontwerp. Mnr. Douwes was nie net n kunsonderwyser nie, maar ook ‘n beroemde skilder van daardie tyd. Sy talent is ontdek deur die beroemde skilder, Bosman, wat vir hom kunslesse gegee het.

Die wapen is eenvoudig, sterk en kompak. Die hardloper openbaar ‘n karakter van krag en geloof wat hardloop met die doel om die eindpaal te haal in die wedloop wat voor ons lê. Dit alles is gebalanseer op die boek van die wetenskap wat die regte koers moet aangee.

Die hele wapen word saamgevat in die skool se leuse: VOLHARD.

EREKODE

By hierdie skool het ek die voorreg om te strewe om God te eer, om my mede leerders, personeel en enige ander belanghebbendes van die skool te respekteer en te alle tye met trots te hanteer.

Ek sal myself ten volle toewy aan die onderrig wat ek ontvang en dit beskou as ‘n voorreg en nie ‘n reg nie.

Ek belowe plegtig om myself met volle oorgawe skool aan die skool toe te wy en om die skool se naam te vereer in elke situasie waarin ek myself bevind.

Ek sal te alle tye netjies voorkom in fisies- en geestelike karakter.

Ek sal te alle tye die geboue en toerusting van die skool respekteer.

Ek sal die skool ondersteun, op sport-, kulturele- en akademiese vlak en alles in my vermoë doen om die skool positief te bemark.

Ek sal te alle tye beleefd optree, hetsy teenoor ouers of besoekers van die skool in en om die skool.

Ek sal poog om te alle tye as goeie landsburger op te tree.

Ek sal, soos ‘n ware Lindeniet, my hele lewe VOLHARD tot die einde toe.

ONS VISIE

Ons gee aan jongmensedie nodige toerusting om ‘n positiewe bydrae in die samelewing te maak en om mense van karakter te wees.

 

Ons bou karakter deur selfverantwoordelikheid, opregte omgee, respek, eerlikheid, lojaliteit, en samewerking.

ONS MISSIE

Ons help jongmense om die gemeenskap te verbeter deur onderrig wat vriendelik, nuttig en van hoë gehalte is.

ons waardes

By Hoërskool Linden handhaaf ons die waardes van respek, integriteit, uitnemendheid, lojaliteit en eenheid. Ons behandel mekaar met menswaardigheid en soos ons self behandel wil word. Ons is eerlik en opreg, streef daarna om ons beste te lewer en sukses te behaal. Ons bly lojaal deur mekaar te ondersteun in goeie en slegte tye, en werk saam as ‘n verenigde gemeenskap wat ‘n groter doel dien as onsself.

RESPEK

Ons behandel mekaar menswaardig en soos onsself behandel wil word.

UITNEMENDHEID

Ons wil ons eie beste bereik en volhoubare sukses bou.

INTEGRITEIT

Ons leef wie ons werklik is en is eerlik met mekaar.

LOJALITEIT

Ons staan by mekaar deur alles – in tye van vreugde én in tye van uitdaging.

EENHEID

Ons dien 'n skool en gemeenskap groter as onsself.

ons skoollied

In 1951 word die skoollied geskryf en gekomponeer deur mnr. J.C. van Eyssen, ‘n onderwyser van Helpmekaar. Hy staan ook bekend as “Maatjie van Helpmekaar.” Hy was vanaf 1921 ‘n onderwyser by Helpmekaar en het nooit formele musiekopleiding gehad nie, maar wel ‘n aangebore gevoel vir musiek. Staaltjies is vertel dat dit juis die uitsig vanuit sy klaskamer by Helpmekaar, op die Braamfontein bult was, wat hom geinspireer het om Linden se skoollied te skryf. Helpmekaar was geleë op die hoogste punt van die stad en vandaar kon Maatjie die Goudstad aan die eenkant sien, die veld aan die anderkant en die pronkskool tussen die perskeboorde.

Ds. G. Boshoff, die eerste Voorsitter van Hoërskool Linden se Beheerliggaam, skryf die volgende woorde in die skool se 1953 jaarblad oor die skoollied:

"Aan die digter en komponis, mnr. JC van Eyssen van Helpmekaar, is ons baie verskuldig vir hierdie besielende lied wat hy aan ons geskenk het. Baie dankie Maatjie. Die sing van ons lied het vir ons 'n vreugde geword. Ons sal met volharding daarop handhaaf en bou".

SKOOLLIED

Langs die grootpad na die Noorde waar die bulte kartlend glooi

Staan ‘n pronkskool tussen boorde

Met ‘n toekoms wat jou nooi!

Aan die een kant roep die Goudstad aan die ander kant die veld:

Dis die stem van woeste weelde

Teen die stem van Trekkerheld !

Ons hou wat mooi is uit die voorgeslag: ons bou daarop ‘n beter toekomsdag, Staan sterk en nooit vervaard want ons leuse is Volhard!

Ons volhard, Volhard, Volhard !