Die verhaal van hoërskool linden

ons geskiedenis

-1902

Net na die Anglo-Boereoorlog, in 1902, het mnr. D.J. Viljoen aan die hoof gestaan van ’n Engelse plaasskooltjie met 40 leerders. Braamfontein Government School, soos die skool bekend gestaan het, was gebou op Louw Geldenhuys se plaas Braamfontein.

Weens ’n groeiende leerdertal verhuis die skool in 1916 na ’n groter skuur op Louw Geldenhuys se plaas in Linden. Die destydse regering het ’n skool laat bou op die grond wat deur Louw Geldenhuys geskenk is. Hierdie nuwe skool staan bekend as die Linden Government School.

-1920

In 1920 word Afrikaans, naas Engels, ingestel as ’n medium van onderrig.

-1935

In 1935 word mnr. T.E. Schlebusch as hoof aangestel. In 1936 word die skool vernoem na Louw Geldenhuys en kom die Louw Geldenhuys-skool dus tot stand. Die leerders het tot in standaard 6 (vandag graad 8) by die laerskool skoolgegaan.

-1937

In 1937 word ’n standaard 7-klas ingestel. Hiermee ontstaan die laerskool se eerste sekondêre afdeling, by name die Lindense Junior Hoërskool.

-1940

In 1940 het die Louw Geldenhuys-skool heeltemal te klein geword. Daar moes drie klaskamers ingerig word in die skuur van oom Danie Malan in Negendestraat, nog twee klasse in die winkeltjie van oom Danie Swanepoel in Sesdestraat, ’n verdere twee klasse in die kerksaaltjie in Vyfdestraat, en selfs een in die skool se fietsstoor.

 

-1947

Ten spyte van die moeilike oorlogsjare het mnr. Schlebusch besef dat dit tyd geword het om ’n nuwe hoërskool in Linden te bou. Op 20 Januarie 1946 word die hoeksteen van die nuwe hoërskool gelê. In 1947 is die Lindense Junior Hoërskool met 500 leerders en 17 leerkagte in ’n sierlik-moderne skoolgebou met 14 klaskamers op die destydse markplein van Linden ingelyf. Mnr. Schlebusch het oorgeskuiif van die Louw Geldenhuys-skool en die eerste hoof van die Junior Hoërskool geword. Linden was aanvanklik ’n dubbelmedium junior hoërskool. Die geboue op die nuwe terrein het egter gou beperk geraak en tente is opgeslaan wat as klaskamers gedien het.

-1951

In 1951 word die skoollied geskryf en gekomponeer deur mnr. J.C. van Eyssen, ’n onderwyser van die Hoër Seunskool Helpmekaar. Hy staan ook bekend as die “Maatjie van Helpmekaar”. Die stalletjie lui dat dit juis die uitsig vanaf sy klaskamer op die Braamfonteinbult was wat hom geïnspireer het om Hoërskool Linden se skoollied te skryf. Vandaar kon Maatjie die Goudstad aan die een kant sien, die veld aan die ander kant en die pronkskool tussen die perskeborde in Linden.

Mnr. T.E. Schlebusch het met die gedagte van die skoolwapen na vore gekom. Die skoolwapen is ontwerp deur die skool se kunsonderwyser, ook ’n bekende skilder van daardie jare, mnr. H.K.L. (Herman) Douwes. Die skoolwapen is eenvoudig, sterk en kompak. Die hardloper openbaar in karakter van krag en geloof wat hardloop met die doel om die eindpaal te haal, terwyl die oop boek die regte koers aandui. Die simboliek van die wapen word saamgevat in die skool se leuse: VOLHARD.

-1951

Op Saterdag 3 November 1951 het die Eerste Minister van Suid-Afrika, dr. D.F. Malan, die houtsneewerk deur die kunstenaar, mnr. D. van Aschenborn, bokant die noordelike uitgang van die saal onthul.

Weens die toename in leerdergetalle het daar ’n behoefte ontstaan aan nog ’n hoërskool in die omgewing. Aan die einde van 1951 is die Roosevelt High School voltooi. Die Engelssprekende leerders het die volgende jaar daar begin skoolgaan. In 1952 spog Linden dus met ’n hoërskool wat slegs in Afrikaans onderrig verskaf en vir die eerste keer ’n matriekklas het. In hierdie jaar verkry die skool ook verhoogde status as ’n volwaardige hoërskool – die Hoërskool Linden. Met die inwyding van die nuwe Afrikaanse Hoërskool publiseer Hoërskool Linden dan ook sy eerste jaarblad. Die jaarblad staan bekend as die Jan van Riebeeck-uitgawe.

In 1953 groei die skool tot 708 leerders, wat nuwe aanbouings aan die bestaande geboue noodsaak. In dieselfde jaar implementeer mnr. Schlebusch vir die eerste keer die toekenning van erekleure aan leerders wat presteer op sport-, kultuur- en akademiese gebied. Die skool kry ook sy eerste telbord, wat deur die Coca-Cola Maatskappy op die rugbyveld opgerig word, en Hoërskool Linden se kadetkorps kom tot stand onder leiding van die tambormajor, mnr. D. Hough.

Op 19 November 1954 neem Hoërskool Linden afskeid van sy eerste skoolhoof, mnr. T.E. Schlebusch. ’n Portret van die hoof wat geskilder is deur sy kollega Herman Douwes word in die skoolsaal aangebring. Ter herinnering aan die stigtingswerk van mnr. Schlebusch het die Beherende Raad besluit om die skoolsaal tot die Schlebuschsaal te doop.

Op 18 Januarie 1955 word die bekende skrywer van die Uile-reeks, mnr. J.C. Dirks, beter bekend as Cor Dirks, verwelkom as die nuwe hoof van Hoërskool Linden.

Op 24 September 1955 open Sy Edele die Administrateur van Transvaal, dr. Wim Nicol, die nuwe deel van die skool. Die bykomende geboue bestaan uit 14 klaskamers en is teen ’n koste van 40 000 pond aangebring. Die onderwysers het nou vir die eerste keer elkeen ’n eie klaskamer en die leerders wissel nou ook vir die eerste keer van klasse tussen periodes. Die skool ontvang ook ’n bykomende grondskinking wat tot aan die einde van Derdelaan strek en die standplaas op die hoek van Derdelaan en Vyfdestraat insluit.

-1956

In 1956 beleef Hoërskool Linden talle nuwe verwikkelinge. ’n Debatsvereniging, CSV-tak, oud-leerdervereniging, skaakklub en die heel eerste ouervereniging word gestig. Die skool open sy eerste volwaardige biblioteek met 4 000 boeke op die rakke. In hierdie jaar sluit Hoërskool Linden ook by die Transvaalse Hoërskole Krieket Sub-unie aan en speel vir die eerste keer krieketligawedstryde. ’n Tuinbouspan word op die been gebring om te sorg dat die terrein netjies in stand gehou word.

-1957

In 1957 is daar 870 leerders in die skool. In slegs ’n dekade het Hoërskool Linden gegroei tot een van die bekendste landmerke van die noordelike voorstede. In hierdie jaar begin die prefekte vir die eerste keer gewone groen baadjies dra, wat hulle onderskei van die res van die skool se leerders met hulle gestreepte baadjies. ’n Ererol waarop die skoolleiers van die jaar se name verskyn, word ook by die skool aangebring.

-1958

In 1958 skryf die digter G.A. Watermeyer ’n strydkreet vir die skool wat tot vandag toe nog in gebruik is en steeds vir hoendervleisoomblikke sorg

-1959

In 1959 skenk die matrikulante ’n staalboog vir die hoofingang van die skool. Die skool hou ’n taalfes in hierdie jaar en verower al die volkspeletrofee op die kunswedstryd. Boonop bou die skool sy eerste skietbaan.

-1960

In 1960 bereik Hoërskool Linden sy hoogtepunt wat leerdergetalle betref: ’n totaal van 1 019 leerders is by die skool ingeskryf. Vyf tennisbane en ’n klubhuis word ook op die gronde oorkant die skool aangebou. Die klubhuis is van besondere betekenis want dit is ’n geskenk van die ouervereniging aan die skool.

In 1960 is verdere geskiedenis gemaak deurdat die eerstesrugbyspan vir die eerste keer in wit rugbytruie speel. Die wit trui word spesiaal ontwerp deur die kunsonderwyser, mnr. Herman Douwes. Die span speel hulle eerste wedstryd in hulle splinternuwe wit truie teen die Hoër Seunskool Helpmekaar en wen met ’n telling van 14–0. Elke eerstespanspeler dra tot vandag toe nog sy wit trui met dieselfde trots as die span van 1960.

-1961

In 1961 word ’n behoorlike atletiekbaan van gelyke kortgras aangelê.

-1964

In 1964 kry die skool ’n nuwe saal en die Schlebuschsaal word ’n gimnastieksaal. Die nuwe saal word na die skoolhoof, mnr. Cor Dirks, vernoem. Op 11 Oktober 1964 word die Cor Dirksaal amptelik geopen met die operette ’n Soen val uit die Hemel.

-1966

In 1966 het die Hoërskool Randburg sy deure geopen en die getal standaard 6-leerders in Hoërskool Linden daal gevolglik. Die skool het in dié jaar 837 leerders.

-1967

In 1967 word Hoërskool Linden ’n projekskoool, wat beteken dat die skool sy eie eksamens skryf en nie meer dié van die Transvaalse Onderwysdepartement (T.O.D.) nie.

-1968

In 1968 kry die skool ’n permanente pawiljoen waarop 700 mense kan sit. Mnr. Jannie le Roux, president van die Transvaalse Rugby-unie, het die amptelike opening van die pawiljoen waargeneem.

-1969

In 1969 skenk die matriks ’n kateder aan die skool met ’n houtsneewerk van die skoolwapen. Die houtsneewerk is deur mnr. D. van Aschenborn geskep. Dit is ook in die vorm van ’n skild tot ’n atletiektrofee omskep en is aan die beste junior-seunsatleet toegeken. Later het die skild in onbruik geraak en om te verhoed dat dit verlore gaan, is dit op die kateder aangebring.

-1971

In 1972 word nuwe skooldrag vir die dogters ingestel. Mnr. Cor Dirks tree in 1973 as skoolhoof uit.

-1972

In 1961 word ’n behoorlike atletiekbaan van gelyke kortgras aangelê.

-1974

Op 1 Julie 1974 word mnr. F.G. van Schalkwyk as hoof aangestel.

-1984

Hy tree af op 30 November 1984.

-1985

Mnr. A.J. van Rensburg word op 1 Januarie 1985 as hoof aangestel.

-1986

In 1986 skenk mnr. J. Twine, ’n ouer van die skool en sakeman van Randburg, die skool se eerste spreiligte op die rugbyveld. Hierdie spreiligte is steeds in gebruik.

-1988

Op 16 Augustus 1988 is geskiedenis gemaak toe die eerste Artesaand gehou is. Die Artesaand is ’n glansryke talentaand waartydens die beste leerders op kuns- en kultuurgebied in verskillende kategorieë beoordeel word. André Schwartz, ’n oudleerder en sanger wat al internasionale erkenning ontvang het, was die gaskunstenaar. Die trofee vir die wenners van die Artesaand is deur die oudleerders Regardt van den Bergh en Riana Niehaber, twee bekendes in akteurskringe, aan die skool geskenk. Die Artesaand is steeds ’n jaarlikse instelling op Hoërskool Linden se kultuurkalender.

-1989

In 1989 wen die kadetorkes en die seunsdrilpeloton die nasionale kompetisie en die dogtersdrilpeloton behaal ’n nasionale tweede plek. In hierdie jaar wen die dogterstennis die gesogte Direkturstrofee.

Op 12 Desember 1989 neem die skool afskeid van die hoof, mnr. A.J. van Rensburg. Mnr. Louis van Dyk neem vir ’n paar maande waar en op 1 Oktober 1990 word mnr. D.C.P. de Bruin as nuwe hoof aangestel.

-1993

Op 1 April 1993 groet mnr. De Bruin as skoolhoof en mnr. Louis van Dyk neem in sy plek waar totdat hy op 17 Junie 1993 as hoof van Hoërskool Linden aangestel word.

-1994

In 1994 en 1995 wen Hoërskool Linden die nasionale ATKV-Toneelkompetisie.

-1998

In 1998 wen Hoërskool Linden se kadetorkes vir die derde keer die nasionale kompetisie.

-2006

In 2006 verskuif die hoofhek vanaf Vyfdestraat na Sesdestraat.

-2008

In Desember 2008 groet mnr. Louis van Dyk as skoolhoof en in 2009 word mnr. Arthur Underhay die hoof van Hoërskool Linden.

-2012

In 2012 bedank mnr. Arthur Underhay en in Julie 2013 word dr. J. Jordaan as hoof aangestel.

-2016

In 2016 word Hoërskool Linden die eerste openbare skool in die land wat as ’n Microsoft-vennootskapskool aangewys word.

-2017

In 2017 neem Hoërskool Linden ’n nuwe skoolbus in ontvangs terwyl daar met ’n swaar hart afskeid geneem word van ’n stukkie skoolgeskiedenis – die eerste skoolbus.

In Julie 2017 verlaat dr. J. Jordaan die skool en op 1 November 2017 word dr. Johan Wiehahn verwelkom as die negende hoof van Hoërskool Linden.

-2017

Met die viering van Hoërskool Linden se 70ste bestaansjaar in 2017 word die skool se geskiedenis op luisterryke wyse herdenk. Talle oudleerkagte en -leerders sluit by die feesvieringe aan om weer kleurrryke herinneringe aan Hoërskool Linden in die lewe te roep.

Die boodskap van ds. G.J.J. Boshof, voorsitter van die Beherende Raad in die eerste jaarblad van 1952, is steeds vandag van toepassing. Dit lui soos volg:

“Hoërskool Linden lê in ons eie hande. Moet groei op ons eie harte. Moet leef uit ons eie liefde. Moet aanwas uit ons eie wieg. Moet gelaaf word uit ons eie sweet. Moet gedra word op ons eie gebede. By reg begin moet ons wegspring. ’n Eie tradisie moet geskep word. ’n Eie metode ontwerp word.”

Na vele dekades het Hoërskool Linden bewys dit is ’n skool met ’n ryk geskiedenis, eie tradisies en trotse waardes. Beroemde – soms berugte – en bekende mense het hier die essensie van hul lewens ontdek.


Hoërskool Linden, ons salueer jou vir dit wat jy vir elke leerder beteken. Die weg wat jy vir tienduisende jongmense baan. Die lig wat jy op talle lewens laat skyn.

Ons sal bly Volhard – gister, vandag, môre!